Ek het oor etlike jare die volgende materiaal saamgestel en aan baie jongmense en hul ouers aangebied. Toe my dogters, wat nou al getroud is, tieners was, het ek dit verder verfyn vir die deel en bespreking met hulle en die jong mans wie gevra het om met hulle uit te gaan.
Volgende is ‘n verkorte weergawe van die langer materiaal, “Guidelines for Sexual Purity.”
1. Seks is goed. God het dit gemaak, God het dit “goed” genoem, en dit het bestaan voordat daar enige sonde in die wêreld was.
Seks is nie deur Satan, Playboy, die internet of een of ander pervert wat in die donker hoekies van 'n pornowinkel skuil, geskep nie. God vereis egter dat ons seks binne sy bedoelings en vereistes aanspreek, nie dié van die wêreld nie (Efesiërs 5:3-4). God het seks ontwerp vir die heilige verbintenis van die huwelik tussen 'n man en 'n vrou, en behou dit vir daardie verbintenis.
2. Net soos alle geskenke van God kan seks misbruik en verdraai word.
Water is ‘n geskenk van God waarsonder ons nie sou kon oorleef nie. Maar vloede en getygolwe is water wat buite beheer is, en die gevolge is verwoestend. Net so het God seks ontwerp om binne sekere grense te bestaan. Wanneer dit in lyn met God se intensionele doel beoefen word, is dit pragtig en konstruktief. Wanneer dit buite beheer is en God se intensionele doel skend, word dit lelik en vernietigend.
3. Die grense van seks is die grense van die huwelik.
Die intensie van seksuele verbintenis is ‘n uitdrukking van 'n lewenslange verbintenis, 'n simbool van die geestelike vereniging wat slegs binne die onvoorwaardelike verbintenis van die huwelik bestaan. Buite die huwelik is die blywende verbintenis afwesig en word die seksuele daad 'n valse uitdrukking, 'n leuen. Seks word nie toelaatbaar deur subjektiewe gevoelens nie, maar deur die objektiewe lewenslange verbintenis van die huwelik.
4. Jou seksuele reinheid is noodsaaklik vir die pad wat jy saam met God stap.
Seksuele reinheid is nie 'n opsie vir 'n gehoorsame Christen nie; dit is 'n vereiste. God se wil is baie meer gesentreer op ons karakter en morele suiwerheid as op ons omstandighede, soos werk en skoolopleiding: “Want dit is God se wil dat julle heilig moet leef: dat julle julle sal weerhou van onsedelikheid” (1 Tessalonisense 4:3).
5. Jy is kwesbaar vir seksuele immoraliteit.
Moenie jouself flous dat dit nooit met jou kan gebeur nie — dit kan. “Daarom moet hy wat dink hy staan, oppas dat hy nie val nie!” (1 Korintiërs 10:12) As jy dink dat jy nooit seksueel sal val nie, sal jy nie voorsorgmaatreëls tref om te keer dat dit gebeur nie.
6. Jy word geteiken vir seksuele immoraliteit.
Hoe meer jy betrokke is by die diens van Christus, hoe groter gevestigde belange het Satan daarin om jou en God se werk in en deur jou te vernietig. Die bose wil jou afbreek en jou lewe gebruik as 'n slegte voorbeeld vir ander Christene. God vereis dat ons heilige en suiwer instrumente moet wees om deur Hom gebruik te word (2 Timoteus 2:20-21). Maar so magtig soos wat die bose is om ons te versoek, is God oneindig sterker om ons te verlos en het Hy ons in Christus al die hulpbronne gegee wat ons nodig het om goddelike lewens te lei (2 Petrus 1:3-4).
7. Jou liggaam behoort aan God, nie aan jou nie.
“Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan met julle liggaam” (1 Korintiërs 6:20). Toe jy na Christus toe gekom het, toe jy Hom as Here van jou lewe bevestig het, het jy jou hele self, insluitend jou liggaam, aan God gegee. Hy het die hoogste prys daarvoor betaal: die gestorte bloed van God Almagtig!
8. Seksuele reinheid begin in die gedagtes, nie in die liggaam nie.
“Bewaak jou hart meer as enigiets wat bewaar word, want daaruit ontspring die lewe” (Spreuke 4:23). Wees versigtig waaraan jy jou gedagtes blootstel. As jy op 'n dieet is, moenie na Baskin & Robin's toe gaan nie. As jy dit doen, sal jou weerstand min wees. As jy jouself teen wellus wil beskerm, moenie plekke besoek en flieks en programme kyk en dinge lees wat wellus aanwakker nie. Moenie jou gedagtes gemorskos gee nie. Maak seker dat jy geestelike voeding kry.
9. Aangesien God nie wil hê dat jy voorhuwelikse seks moet hê nie, wil Hy ook nie hê dat jy dít doen wat jou liggaam voorberei vir voorhuwelikse seks nie.
Daar is 'n spektrum of volgorde van fisiese kontak wat begin met dinge soos naby aan mekaar sit en hande vashou en beweeg na seksuele omgang. Die Skrif spel nie presies uit watter “intermediêre” gedrag toelaatbaar is nie, maar een ding is seker — die lyn moet getrek word voordat enige een van julle seksueel gestimuleer word
10. Sodra jy jou liggaam toelaat om die lyn oor te steek, sal dit nie jou Christelike oortuigings ken of omgee daarvoor nie.
Sommige Christene bid dat God hul reinheid sal beskerm, maar dan stel hulle hulself moedswillig in versoeking en wonder waarom God dan nie hul gebed verhoor het nie. Maak nie saak hoe vurig jy bid dat jy nie in immoraliteit sal verval nie, jy sal val as jy voortdurend keuses te maak wat jou versoeking tot immoraliteit voed. Moenie toelaat dat jou keuses jou gebede ondermyn en ongeldig maak nie.
11. As jy seksuele intimiteit met iemand buite die huwelik het, steel jy van God en van die ander persoon.
Aangesien hy of sy aan God behoort, en nie aan jou nie, beteken dit dat jy hierdie persoon vir die aand leen. Wees versigtig wat jy doen met wat nie aan jou behoort nie. Jy sal aanspreeklik gehou word teenoor sy of haar Eienaar.
12. God het jou beste belange in gedagte wanneer Hy vir jou sê om nie voorhuwelikse seks te hê nie.
Seks is nie net iets wat jy doen nie — seks is iemand wat jy is. Dit is gekoppel aan die welstand van jou hele persoon. Om seks buite die huwelik te beoefen is selfvernietigend in elke sin. Seksuele reinheid is altyd vir die beste — nie net vir God en ander nie, maar vir jou.
13. God sou nie vir jou sê om jou van onreinheid te weerhou as dit onmoontlik was om Hom te gehoorsaam nie.
Seks is iets waarvan almal hulself kan weerhou — dit is 'n sterk begeerte, ja, maar nooit 'n noodgeval nie, nooit 'n noodsaaklikheid nie. “…en voed ons op, sodat ons in hierdie bedeling verstandig en regverdig en godvresend kan leef, deur goddeloosheid en wêreldse begeertes te verwerp” (Titus 2:12). Jy kan en behoort op jou hulpbronne in Christus staat te maak en “nee” te sê vir versoekings om te sondig.
14. Satan sal vir jou jok oor seks, maar Jesus vertel vir jou die waarheid.
Jesus het van Satan gesê, “Julle kom van julle vader, die Duiwel, en julle wil die begeertes van julle vader uitvoer. Hy was van die begin af 'n mensemoordenaar, en hy staan nie by die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy 'n leuen vertel, vertel hy dit uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar en die vader daarvan is” (Johannes 8:44). Satan is 'n leuenaar, maar Jesus is die waarheid en die spreker van waarheid (Johannes 14:6). Hy het gesê, “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak” (Johannes 8:32). Diegene wat Satan se leuens oor seks glo, beland in slawerny. Diegene wat Christus se waarheid oor seks glo, word vry.
15. Jy moet leer om in die langtermyn te dink, nie korttermyn.
Goed of sleg, jy sal altyd oes wat jy saai– jy sal altyd die vrugte pluk van jou keuses. “Moet julle nie laat mislei nie – God laat Hom nie bespot nie! Wat die mens ook al saai, sal hy maai” (Galasiërs 6:7). Die lewenslange gevolge van seksuele onreinheid is erger as wat ons onsself kan verbeel.
16. Indien jy sommige van hierdie riglyne oortree het, bely dit, bekeer jou en maak ‘n plan om te verhoed dat jy in die toekoms weer oortree.
Wanneer jy jou sondes erken en berou het daaroor, sal God jou skoonwas:
“So ver as wat die ooste verwyder is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons” (Psalms 103:12).
“As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig” (1 Johannes 1:9).
Selfs al is jy nie meer 'n maagd nie, kan en moet jy jouself verbind tot sekondêre maagdelikheid – om van vandag af seksueel rein te bly, en jouself uitsluitlik vir jou huweliksmaat te spaar, sou God kies om jou een te gee. Jy het meer as goeie bedoelings nodig om jou reinheid te handhaaf – jy het 'n plan nodig. As jy toegewyd is tot 'n verhouding met 'n groeiende Christen, bespreek dit eerlik en maak 'n plan om te verhoed dat jy terugval in voorhuwelikse intimiteit.
Leef so dat jy jou Here eendag vir jou kan hoor sê: "Welgedaan." Kom aan die regte kant van die heelal se morele stelsel. Eer God deur in seksuele reinheid te leef. As jy dit doen, sal jy Sy seën en belonings nie net vandag, môre en tien jaar van nou af ervaar nie, maar regdeur die ewigheid.